Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 13:1-7 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. SAUL het ’n jaar geregeer. En toe hy twee jaar oor Israel geregeer het,

2. het Saul vir hom drieduisend man uit Israel uitgesoek; en by Saul was tweeduisend in Migmas en op die gebergte van Bet-el, en duisend was by Jónatan in Gíbea in Benjamin; maar die orige manskappe het hy laat gaan, elkeen na sy tente toe.

3. En Jónatan het die wagpos van die Filistyne verslaan wat in Geba was, en die Filistyne het dit gehoor. Daarop het Saul op die ramshoring laat blaas in die hele land om te sê: Laat die Hebreërs dit hoor!

4. En die hele Israel het hoor sê: Saul het die wagpos van die Filistyne verslaan, en ook het Israel homself gehaat gemaak by die Filistyne. So is dan die manskappe opgeroep agter Saul aan na Gilgal toe.

5. En die Filistyne het bymekaargekom om teen Israel te veg: drieduisend strydwaens en sesduisend perderuiters en voetgangers soos die sand wat op die seestrand is in menigte; en hulle het opgetrek en laer opgeslaan by Migmas, oos van Bet-Awen.

6. Toe die manne van Israel sien dat hulle in die nood is — want die volk was in die noute gedruk — het die volk weggekruip in die spelonke en in die doringbosse en in die rotse en in die grotte en in die kuile.

7. En die Hebreërs het die Jordaan deurgetrek na die land Gad en Gílead; maar Saul was nog in Gilgal met al die manskappe wat bewende agter hom aan gegaan het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 13