Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 12:1-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. TOE sê Samuel aan die hele Israel: Kyk, ek het na julle geluister in alles wat julle aan my gesê het, en ’n koning oor julle aangestel.

2. En kyk nou, die koning sal voor julle uit wandel, en ek het oud en grys geword, en my seuns is hier by julle. En ek het voor julle uit gewandel van my jeug af tot vandag toe.

3. Hier is ek; getuig teen my voor die Here en voor sy gesalfde: wie se bees ek geneem het, en wie se esel ek geneem het, en wie ek verdruk of hard behandel het; en uit wie se hand ek omkoopgeld aangeneem het om my oë daarmee toe te maak — dan sal ek dit aan julle teruggee.

4. En hulle antwoord: U het ons nie verdruk of ons hard behandel nie en uit niemand se hand iets aangeneem nie.

5. Daarop sê hy vir hulle: Die Here is getuie teen julle, en getuie is sy gesalfde vandag, dat julle niks in my hand gevind het nie. En hulle roep: Hy is getuie.

6. Verder het Samuel aan die volk gesê: Getuie is die Here wat Moses en Aäron voortgebring en julle vaders uit Egipteland laat optrek het.

7. Gaan staan dan nou, dat ek met julle gerig kan hou voor die aangesig van die Here oor al die regverdige dade van die Here wat Hy aan julle en julle vaders gedoen het.

8. Nadat Jakob in Egipte gekom en julle vaders die Here aangeroep het, het die Here Moses en Aäron gestuur; en hulle het julle vaders uit Egipte gelei, en Hy het hulle op hierdie plek laat woon.

9. Maar hulle het die Here hul God vergeet; daarom het Hy hulle verkoop in die hand van Sísera, die leërowerste van Hasor, en in die hand van die Filistyne en in die hand van die koning van Moab — wat teen hulle geveg het.

10. Toe het hulle die Here aangeroep en gesê: Ons het gesondig, want ons het die Here verlaat en die Baäls en Astártes gedien; maar red ons nou uit die hand van ons vyande, dan sal ons U dien.

11. En die Here het Jerúbbaäl en Bedan en Jefta en Samuel gestuur en julle uit die hand van jul vyande rondom gered, sodat julle veilig gewoon het.

12. Maar toe julle sien dat Nahas, die koning van die kinders van Ammon, teen julle aankom, het julle aan my gesê: Nee, maar ’n koning moet oor ons regeer, terwyl die Here julle God tog jul koning is.

13. Hier is dan nou die koning wat julle uitgekies het, wat julle begeer het, en kyk, die Here het ’n koning oor julle aangestel.

14. As julle maar die Here vrees en Hom dien en na sy stem luister en nie wederstrewig is teen die mond van die Here nie en julle self sowel as die koning wat oor julle regeer, die Here julle God maar volg!

15. Maar as julle nie na die stem van die Here luister nie en wederstrewig is teen die mond van die Here, dan sal die hand van die Here teen julle wees soos teen julle vaders.

16. Gaan dus staan, en kyk na hierdie groot saak wat die Here voor julle oë gaan doen.

17. Is dit nie koringoestyd vandag nie? Ek sal die Here aanroep, dat Hy donderslae en reën gee: weet dan en sien dit in dat julle kwaad groot is wat julle in die oë van die Here gedoen het deur ’n koning vir julle te begeer.

18. Toe het Samuel die Here aangeroep, en die Here het donderslae en reën op dié dag gegee, sodat die hele volk baie bevrees geword het vir die Here en vir Samuel.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 12