Ou Testament

Nuwe Testament

1 Samuel 1:19-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

19. Toe het hulle die môre vroeg klaargemaak en voor die aangesig van die Here aanbid en teruggegaan en by hulle huis in Rama gekom; en Élkana het sy vrou Hanna beken, en die Here het aan haar gedink.

20. En by die wisseling van die jaar het Hanna, wat swanger was, ’n seun gebaar en hom Samuel genoem; want, het sy gesê, ek het hom van die Here gebid.

21. Toe die man Élkana dan met sy hele huisgesin opgaan om aan die Here die jaarlikse offer en sy gelofte-offer te bring,

22. het Hanna nie opgegaan nie; maar sy het aan haar man gesê: Eers wanneer die seun gespeen is, sal ek hom bring, dat hy kan verskyn voor die aangesig van die Here en daar vir altyd bly.

23. En haar man Élkana het aan haar gesê: Doen wat goed is in jou oë, bly totdat jy hom gespeen het; mag die Here net sy woord bevestig. Die vrou het toe gebly en haar seun gesoog totdat sy hom gespeen het.

24. En sodra sy hom gespeen het, het sy hom met haar saam gebring, met drie bulle en ’n efa meel en ’n sak wyn, en sy het hom gebring in die huis van die Here in Silo. En die seun was nog jonk.

25. En hulle het die bul geslag en die seun by Eli gebring;

26. en sy het gesê: Ag, my heer, so waar as u siel leef, my heer, ek is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die Here te bid.

27. Om hierdie seun het ek gebid, en die Here het my bede aan my gegee wat ek van Hom gebid het.

Lees volledige hoofstuk 1 Samuel 1