Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 29:1-8 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. VERDER het koning Dawid aan die hele vergadering gesê: My seun Salomo, die een wat God verkies het, is jonk en teer, en die werk is groot, want nie vir ’n mens is die paleis nie, maar vir die Here God.

2. En uit al my krag het ek gereed gelê vir die huis van my God: goud vir die goue en silwer vir die silwer- en koper vir die koper-, yster vir die yster- en hout vir die houtwerke; oniksstene en stene om in te lê, swart en veelkleurige stene, en allerhande kosbare stene en marmerstene in menigte.

3. Bowendien, omdat ek behae het in die huis van my God, besit ek persoonlik goud en silwer; dit gee ek aan die huis van my God bo en behalwe alles wat ek vir die huis van die heiligdom in gereedheid gebring het:

4. drieduisend talente goud, uit goud van Ofir, en seweduisend talente gelouterde silwer om daarmee die mure van die geboue oor te trek;

5. goud vir die goue en silwer vir die silwer voorwerpe en vir al die werk van kunstenaarshand. Wie bied hom dan vandag gewillig aan om sy hand te vul vir ’n offer aan die Here?

6. Toe het vrywillig gegee: die familie-owerstes en die stamowerstes van Israel en die owerstes oor duisend en oor honderd en ook die owerstes oor die diens van die koning.

7. En hulle het gegee vir die diens van die huis van God: aan goud vyfduisend talente en tienduisend darieke; en aan silwer tienduisend talente; en aan koper agttienduisend talente; en aan yster honderdduisend talente.

8. En by wie edelgesteentes gevind is, hulle het dit gegee vir die skat van die huis van die Here onder toesig van Jéhiël, die Gersoniet.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 29