Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 22:9-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Kyk, ’n seun sal vir jou gebore word; hý sal ’n man van rus wees, en Ek sal hom rus verskaf van al sy vyande rondom; want Salomo sal sy naam wees, en vrede en rus sal Ek oor Israel in sy dae gee.

10. Hý sal vir my Naam ’n huis bou, en hý sal vir My ’n seun wees, en Ek vir hom ’n Vader; en Ek sal die troon van sy koningskap oor Israel bevestig tot in ewigheid.

11. Nou, my seun, mag die Here met jou wees, dat jy voorspoedig kan wees om die huis van die Here jou God te bou soos Hy oor jou gespreek het.

12. Mag die Here jou net insig en verstand gee en jou aanstel oor Israel; en dit om die wet van die Here jou God te onderhou.

13. Dan sal jy voorspoedig wees as jy sorgvuldig die insettinge en verordeninge onderhou wat die Here aan Moses oor Israel beveel het; wees sterk en vol moed, wees nie bevrees en wees nie verskrik nie.

14. En kyk, deur my moeitevolle arbeid het ek vir die huis van die Here honderdduisend talente goud en ’n miljoen talente silwer gereed gelê, en die koper en die yster is onweegbaar; want dit is daar in groot hoeveelheid; en hout en klippe het ek in gereedheid gebring; en jy kan daar nog meer byvoeg.

15. Verder is daar by jou werksmense in menigte: klipkappers en ambagsmanne in klip en hout, en allerhande kunstenaars in allerhande werk.

16. Wat die goud, die silwer en die koper en die yster betref, dit is ontelbaar. Maak jou klaar en gaan aan die werk, en mag die Here met jou wees!

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 22