Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 21:14-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

14. En die Here het ’n pes onder Israel beskik, en van Israel het daar sewentigduisend man geval.

15. En God het ’n engel na Jerusalem gestuur om dit te verwoes; en terwyl hy dit verwoes, het die Here dit gesien, en dit het Hom berou oor die onheil, en Hy het aan die engel wat die verwoesting moes aanrig, gesê: Genoeg, trek nou jou hand terug! En die engel van die Here het by die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, gestaan.

16. Toe Dawid sy oë opslaan, sien hy die engel van die Here staan tussen die aarde en die hemel met sy ontblote swaard in sy hand oor Jerusalem uitgestrek. Daarop val Dawid en die oudstes, met rouklere bedek, op hulle aangesig.

17. En Dawid sê tot God: Is dit nie ék wat beveel het om die volk te tel nie? Ja, dit is ek wat gesondig en baie verkeerd gehandel het; maar hierdie skape, wat het hulle gedoen? Here, my God, laat u hand tog teen my en my familie wees, maar nie as ’n plaag teen u volk nie.

18. Daarop gee die engel van die Here bevel aan Gad om aan Dawid te sê dat Dawid moet opgaan om vir die Here ’n altaar op te rig op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet.

19. En Dawid het opgegaan volgens die woord van Gad wat hy in die Naam van die Here gespreek het.

20. Toe Ornan hom omdraai, sien hy die engel; en sy vier seuns wat by hom was, het hulle weggesteek; Ornan het naamlik koring gedors.

21. Toe Dawid by Ornan kom, het Ornan opgekyk en Dawid gesien, en hy het van die dorsvloer uitgegaan en hom voor Dawid met sy aangesig na die aarde gebuig.

22. Daarop sê Dawid vir Ornan: Gee aan my die plek van die dorsvloer, dat ek daarop vir die Here ’n altaar kan bou; gee dit aan my vir die volle geld, sodat die plaag van die volk afgewend kan word.

23. Maar Ornan sê vir Dawid: Neem dit vir u, en laat my heer die koning doen wat goed is in sy oë; kyk, ek gee die beeste as brandoffers en die sleë as hout en die koring as ’n spysoffer; ek gee dit alles.

24. Maar koning Dawid het vir Ornan gesê: Nee, maar ek wil dit verseker koop vir die volle geld; want ek wil nie wat aan jou behoort, vir die Here neem, dat ek verniet ’n brandoffer sou bring nie.

25. En Dawid het vir die plek seshonderd sikkels goud in gewig aan Ornan gegee.

26. En Dawid het daar vir die Here ’n altaar gebou en brandoffers en dankoffers gebring. Onderwyl hy die Here aanroep, het Hy hom met vuur uit die hemel op die brandofferaltaar geantwoord.

27. En die Here het die engel beveel om sy swaard weer in die skede te steek.

28. In dié tyd, toe Dawid sien dat die Here hom geantwoord het op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, het hy daar geoffer;

29. want die tabernakel van die Here wat Moses in die woestyn gemaak het, en die brandofferaltaar was in dié tyd op die hoogte in Gíbeon.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 21