Ou Testament

Nuwe Testament

1 Kronieke 19:1-10 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. DAARNA het Nahas, die koning van die kinders van Ammon, gesterwe, en sy seun het in sy plek koning geword.

2. Toe sê Dawid: Ek wil guns bewys aan Hanun, die seun van Nahas, want sy vader het aan my guns bewys. Daarom het Dawid boodskappers gestuur om hom te troos oor sy vader. Toe dan die dienaars van Dawid in die land van die kinders van Ammon by Hanun aankom om hom te troos,

3. het die vorste van die kinders van Ammon vir Hanun gesê: Eer Dawid u vader in u oë, omdat hy vir u troosters gestuur het? Het sy dienaars nie na u gekom om die land te deursoek en dit om te keer en te verken nie?

4. Daarop neem Hanun die dienaars van Dawid en skeer hulle en sny hulle klere in die helfte af tot by die sitplek, en hy het hulle laat gaan.

5. En toe hulle heengegaan het en van Dawid aangaande die manne berig gebring is, stuur hy bodes om hulle te ontmoet, want die manne was baie skaam; en die koning het gesê: Bly in Jérigo totdat julle baard weer gegroei het; kom dan terug.

6. Toe die kinders van Ammon sien dat hulle hul by Dawid gehaat gemaak het, het Hanun en die kinders van Ammon duisend talente silwer gestuur om vir hulle strydwaens en perderuiters uit Mesopotámië en uit Aram-Máäga en uit Soba te huur.

7. En hulle het vir hulle twee-en-dertigduisend waens gehuur, en die koning van Máäga met sy manskappe; en hulle het gekom en voor Medéba laer opgeslaan; ook die kinders van Ammon het saamgekom uit hulle stede om oorlog te voer.

8. En Dawid het dit gehoor en Joab met die hele leër, die helde, gestuur.

9. En die kinders van Ammon het uitgetrek en hulle in slagorde opgestel by die ingang van die stad, terwyl die konings wat gekom het, afsonderlik in die veld was.

10. Toe Joab sien dat ’n aanval van voor sowel as van agter hom bedreig, het hy uit al die uitgesoektes in Israel uitgekies en hulle teenoor die Arameërs opgestel.

Lees volledige hoofstuk 1 Kronieke 19