Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:44-58 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

44. As u volk uittrek in die oorlog teen sy vyand op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot die Here in die rigting van die stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het,

45. wil dan in die hemel hulle gebed en hulle smeking hoor en aan hulle hul reg verskaf.

46. As hulle teen U sondig — want daar is geen mens wat nie sondig nie — en U op hulle toornig is en hulle aan ’n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as gevangenes wegvoer na die land van die vyand, ver of naby,

47. en hulle dit ter harte neem in die land waarheen hulle as gevangenes weggevoer is, en hulle hul bekeer en U smeek in die land van die wat hulle weggevoer het, en sê: Ons het gesondig en verkeerd gehandel, ons was goddeloos —

48. en hulle hul tot U bekeer met hul hele hart en met hul hele siel, in die land van hul vyande wat hulle weggevoer het, en hulle bid tot U in die rigting van hulle land wat U aan hulle vaders gegee het, van die stad wat U verkies het, en die huis wat ek vir u Naam gebou het,

49. wil dan in die hemel, u vaste woonplek, hulle gebed en hulle smeking hoor en aan hulle hul reg verskaf,

50. en vergeef u volk wat hulle teen U gesondig het, ja, al hulle oortredinge wat hulle teen U begaan het; en laat hulle barmhartigheid vind voor die wat hulle weggevoer het, dat dié hulle barmhartig kan wees.

51. Want hulle is u volk en u erfdeel wat U uit Egipte uitgelei het uit die yster-smeltoond.

52. Mag u oë dan oop wees vir die smeking van u kneg en vir die smeking van u volk Israel, om na hulle te luister so dikwels as hulle U aanroep.

53. Want U het hulle vir U as erfdeel afgesonder uit al die volke van die aarde, soos U deur die diens van u kneg Moses gespreek het toe U, Here Here, ons vaders uit Egipte uitgelei het.

54. Net toe Salomo gereed was om hierdie hele gebed en smeking tot die Here te bid, het hy voor die altaar van die Here opgestaan uit sy knielende houding, met sy hande na die hemel uitgebrei;

55. en hy het gaan staan en die hele vergadering van Israel hardop geseën en gesê:

56. Geloofd sy die Here wat aan sy volk Israel rus gegee het net soos Hy gespreek het: geen enkele woord het onvervuld gebly van al die goeie woorde wat Hy deur die diens van sy kneg Moses gespreek het nie.

57. Mag die Here onse God met ons wees soos Hy met ons vaders gewees het; mag Hy ons nie verlaat en ons nie verwerp nie —

58. deur ons hart tot Hom te neig om in al sy weë te wandel en om sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge wat Hy ons vaders beveel het, te onderhou.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8