Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:31-39 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

31. As iemand teen sy naaste sondig en hulle hom ’n eed oplê om hom tot selfvervloeking te bring en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer,

32. wil U dan hoor in die hemel en handel en u knegte reg verskaf deur die skuldige skuldig te verklaar en sy wandel op sy hoof te lê en die regverdige regverdig te verklaar deur hom te gee na sy geregtigheid.

33. As u volk Israel verslaan word voor ’n vyand, omdat hulle teen U gesondig het, en hulle hul tot U bekeer en u Naam bely en tot U bid en smeek in hierdie huis,

34. wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u volk Israel vergewe en hulle terugbring na die land wat U aan hulle vaders gegee het.

35. As die hemel toegesluit bly, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig,

36. wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe — want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel — en gee reën op u land wat U aan u volk as ’n erfenis gegee het.

37. As daar hongersnood is in die land, as daar pes is, as daar brandkoring, heuningdou, sprinkane, kaalvreters is, as sy vyand hom in die land, in sy poorte dit benoud maak, watter plaag, watter siekte ook al,

38. enige gebed, enige smeking wat enigeen van u hele volk Israel sal doen, as elkeen die plaag van sy hart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei —

39. wil U dan hoor in die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en handel en aan elkeen gee volgens sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van al die mensekinders —

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8