Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 8:29-46 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

29. sodat u oë oop mag wees nag en dag oor hierdie huis, oor die plek waarvan U gesê het: My Naam sal daar wees! sodat U mag luister na die gebed wat u kneg na hierdie plek toe sal bid.

30. Luister dan na die smeking van u kneg en van u volk Israel wat hulle na hierdie plek toe sal bid; ja, mag U hoor elke gebed na u woonplek, na die hemel toe, en as U dit hoor, vergewe dan.

31. As iemand teen sy naaste sondig en hulle hom ’n eed oplê om hom tot selfvervloeking te bring en hy voor u altaar in hierdie huis kom sweer,

32. wil U dan hoor in die hemel en handel en u knegte reg verskaf deur die skuldige skuldig te verklaar en sy wandel op sy hoof te lê en die regverdige regverdig te verklaar deur hom te gee na sy geregtigheid.

33. As u volk Israel verslaan word voor ’n vyand, omdat hulle teen U gesondig het, en hulle hul tot U bekeer en u Naam bely en tot U bid en smeek in hierdie huis,

34. wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u volk Israel vergewe en hulle terugbring na die land wat U aan hulle vaders gegee het.

35. As die hemel toegesluit bly, dat daar geen reën is nie, omdat hulle teen U gesondig het, maar hulle na hierdie plek toe bid en u Naam bely en van hulle sonde hul bekeer, omdat U hulle verootmoedig,

36. wil U dan hoor in die hemel en die sonde van u knegte en van u volk Israel vergewe — want U leer hulle die goeie weg waar hulle in moet wandel — en gee reën op u land wat U aan u volk as ’n erfenis gegee het.

37. As daar hongersnood is in die land, as daar pes is, as daar brandkoring, heuningdou, sprinkane, kaalvreters is, as sy vyand hom in die land, in sy poorte dit benoud maak, watter plaag, watter siekte ook al,

38. enige gebed, enige smeking wat enigeen van u hele volk Israel sal doen, as elkeen die plaag van sy hart ken, sodat hy sy hande na hierdie huis toe uitbrei —

39. wil U dan hoor in die hemel, u vaste woonplek, en vergewe en handel en aan elkeen gee volgens sy weë, U wat sy hart ken — want U alleen ken die hart van al die mensekinders —

40. sodat hulle U kan vrees al die dae wat hulle leef in die land wat U aan ons vaders gegee het.

41. Ja, ook na die uitlander wat nie van u volk Israel is nie, en uit ’n ver land ter wille van u Naam kom —

42. want hulle sal hoor van u grote Naam en u sterke hand en u uitgestrekte arm — as hy kom en bid na hierdie huis toe,

43. wil U dan hoor uit die hemel, u vaste woonplek, en doen volgens alles waaroor die uitlander U sal aanroep, sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, om U te vrees soos u volk Israel, en mag gewaar word dat u Naam uitgeroep is oor hierdie huis wat ek gebou het.

44. As u volk uittrek in die oorlog teen sy vyand op die pad waarop U hulle stuur, en hulle bid tot die Here in die rigting van die stad wat U verkies het, en van die huis wat ek vir u Naam gebou het,

45. wil dan in die hemel hulle gebed en hulle smeking hoor en aan hulle hul reg verskaf.

46. As hulle teen U sondig — want daar is geen mens wat nie sondig nie — en U op hulle toornig is en hulle aan ’n vyand oorgee en hulle veroweraars hulle as gevangenes wegvoer na die land van die vyand, ver of naby,

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 8