Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 3:7-15 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

7. Nou dan, Here my God, U het u kneg koning gemaak in my vader Dawid se plek; maar ek is ’n jong seun; ek weet nie om uit of in te gaan nie.

8. En u kneg is midde onder u volk wat U verkies het, ’n groot volk wat nie getel of bereken kan word weens die menigte nie.

9. Gee dus aan u kneg ’n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk, om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?

10. En dit was goed in die oë van die Here dat Salomo dit begeer het.

11. En God het vir hom gesê: Omdat jy hierdie versoek gedoen het en nie vir jou ’n lang lewe begeer het en nie vir jou rykdom begeer het en nie die lewe van jou vyande begeer het nie, maar vir jou verstand begeer het om regsake te verhoor,

12. so doen Ek dan volgens jou woord: Kyk, Ek gee jou ’n wyse en verstandige hart, sodat een soos jy vóór jou nie gewees het en een soos jy ná jou nie sal opstaan nie.

13. Ja, selfs wat jy nie begeer het nie, sal Ek jou gee, rykdom sowel as eer, sodat onder die konings niemand soos jy sal wees al jou dae nie.

14. En as jy in my weë wandel, deur my insettinge en my gebooie te onderhou, soos jou vader Dawid gewandel het, dan sal Ek jou dae verleng.

15. Toe word Salomo wakker, en — dit was ’n droom! Daarop het hy in Jerusalem gekom en voor die verbondsark van die Here gaan staan en brandoffers gebring en dankoffers berei en ’n maaltyd vir al sy dienaars aangerig.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 3