Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 22:40-54 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

40. En Agab het ontslaap met sy vaders, en sy seun Ahásia het in sy plek koning geword.

41. EN Jósafat, die seun van Asa, het koning geword oor Juda in die vierde jaar van Agab, die koning van Israel.

42. Jósafat was vyf-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het vyf-en-twintig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Asúba, die dogter van Silhi.

43. En hy het geheel en al in die weg van sy vader Asa gewandel — daarvan het hy nie afgewyk nie — deur te doen wat reg was in die oë van die Here.

44. Net die hoogtes is nie afgeskaf nie; die volk het nog op die hoogtes geoffer en rook laat opgaan.

45. En Jósafat het vrede gesluit met die koning van Israel.

46. En die verdere geskiedenis van Jósafat en sy magtige dade wat hy gedoen het, en hoe hy oorlog gevoer het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie?

47. Ook die skandseuns wat uit die dae van sy vader Asa nog oor was, het hy uit die land uitgeroei.

48. Daar was toe nie ’n koning in Edom nie; ’n plaasvervanger was regeerder.

49. Jósafat het Tarsis-skepe gebou om in Ofir goud te gaan haal; maar hulle het nie gegaan nie, want die skepe het in Éseon-Geber skipbreuk gely.

50. Toe sê Ahásia, die seun van Agab, vir Jósafat: Laat my dienaars saam met u dienaars op die skepe gaan. Maar Jósafat wou nie.

51. En Jósafat het ontslaap met sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad van sy vader Dawid; en sy seun Joram het koning geword in sy plek.

52. Ahásia, die seun van Agab, het koning geword oor Israel in Samaría in die sewentiende jaar van Jósafat, die koning van Juda, en het twee jaar oor Israel geregeer.

53. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here — hy het gewandel in die weg van sy vader en in die weg van sy moeder en in die weg van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het.

54. En hy het Baäl gedien en voor hom neergebuig en die Here, die God van Israel, geterg, net soos sy vader gedoen het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 22