Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 21:18-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Maak jou klaar, gaan af Agab, die koning van Israel, wat in Samaría is, tegemoet; kyk, hy is in die wingerd van Nabot, waarheen hy afgegaan het om dit in besit te neem.

19. En jy moet met hom spreek en sê: So sê die Here: Het jy doodgeslaan en ook in besit geneem? Verder moet jy met hom spreek en sê: So spreek die Here: Op die plek waar die honde die bloed van Nabot gelek het, sal die honde ook jou eie bloed lek.

20. Daarop sê Agab vir Elía: Het jy my gekry, my vyand? En hy antwoord: Ek het u gekry, omdat u uself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here!

21. Kyk, Ek gaan onheil bring oor jou en jou skoon wegvee; en Ek sal van Agab uitroei al wat manlik is in Israel, sonder uitsondering.

22. En Ek sal jou huis maak soos die huis van Jeróbeam, die seun van Nebat, en soos die huis van Baésa, die seun van Ahía; weens die geterg waarmee jy My geterg het, en dat jy Israel laat sondig het.

23. En ook oor Isébel het die Here gespreek en gesê: Die honde sal Isébel eet by die voorskans van Jísreël.

24. Die een wat van Agab in die stad sterwe, hom sal die honde eet, en wie in die veld sterwe, sal die voëls van die hemel eet.

25. Waarlik, daar was niemand soos Agab wat homself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die Here nie, omdat sy vrou Isébel hom verlei het.

26. En hy het baie afskuwelik gehandel deur agter die drekgode aan te loop net soos die Amoriete gedoen het wat die Here voor die kinders van Israel uit verdrywe het.

27. En toe Agab hierdie woorde hoor, het hy sy klere geskeur en ’n roukleed om sy lyf gebind en gevas; hy het ook met die roukleed geslaap en stadig rondgeloop.

28. Toe kom die woord van die Here tot Elía, die Tisbiet, en sê:

29. Het jy gesien dat Agab hom voor my aangesig verneder het? Omdat hy hom voor my aangesig verneder het, sal Ek die onheil in sy dae nie bring nie; in die dae van sy seun sal Ek die onheil oor sy huis bring.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 21