Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 19:1-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN Agab het aan Isébel meegedeel alles wat Elía gedoen het, ja, alles — hoe hy al die profete met die swaard gedood het.

2. Daarop stuur Isébel ’n boodskapper na Elía om te sê: Mag die gode so doen en so daaraan toedoen — sekerlik sal ek môre sulke tyd jou siel maak soos die siel van een van hulle.

3. Toe hy dit sien, het hy hom klaargemaak en ter wille van sy lewe weggegaan. En toe hy in Berséba in Juda aangekom het, het hy sy dienaar daar laat agterbly;

4. maar self het hy ’n dagreis ver die woestyn ingegaan en daar onder ’n besembos gaan sit en gewens dat hy mag sterwe. En hy sê: Dit is genoeg, neem nou my siel weg, Here, want ek is nie beter as my vaders nie.

5. Daarop gaan hy lê en raak onder ’n besembos aan die slaap; en kyk, daar raak ’n engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet!

6. Toe hy opkyk, was daar aan sy koppenent ’n broodkoek, op warm klippe gebak, en ’n kruik water. En hy het geëet en gedrink en weer gaan lê.

7. En die engel van die Here het weer vir die tweede maal gekom en hom aangeraak en gesê: Staan op, eet; anders is die pad vir jou te veel.

8. Hy het toe opgestaan en geëet en gedrink en deur die krag van die voedsel veertig dae en veertig nagte lank geloop tot by die berg van God, Horeb.

9. En hy het daar in ’n spelonk gegaan en die nag daar oorgebly. En kyk, die woord van die Here het tot hom gekom en vir hom gesê: Wat maak jy hier, Elía?

10. En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem.

11. En Hy sê: Gaan uit en staan op die berg voor die aangesig van die Here. En kyk, die Here het verbygegaan, terwyl ’n groot en sterk wind die berge skeur en die rotse verbreek voor die Here uit; in die wind was die Here nie. En ná die wind ’n aardbewing; in die aardbewing was die Here nie.

12. En ná die aardbewing ’n vuur; in die vuur was die Here nie. En ná die vuur die gesuis van ’n sagte koelte.

13. En toe Elía dit hoor, het hy sy gelaat met sy mantel toegedraai en uitgegaan en by die ingang van die spelonk gaan staan. En daar kom ’n stem na hom wat sê: Wat maak jy hier, Elía?

14. En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het; en hulle soek my lewe om dit weg te neem.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 19