Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 18:20-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. En Agab het gestuur onder al die kinders van Israel en die profete op die berg Karmel bymekaar laat kom.

21. En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.

22. Toe sê Elía vir die volk: Ek het alleen oorgebly as profeet van die Here, terwyl die profete van Baäl vierhonderd-en-vyftig is.

23. Maar laat hulle vir ons twee bulle gee; dan kan hulle vir hul een bul uitkies en dit in stukke verdeel en op die hout sit, maar sonder om vuur te maak; en ék sal die ander bul gereedmaak en op die hout sit, maar ek sal geen vuur maak nie.

24. Roep julle dan die naam van julle god aan, en ék sal die Naam van die Here aanroep; en die God wat met vuur antwoord, Hy sal God wees. En die hele volk het geantwoord en gesê: Die woord is goed.

25. Verder het Elía aan die profete van Baäl gesê: Kies vir julle een bul uit en maak dit eerste gereed, want julle is die meeste; en roep die naam van julle god aan, maar julle mag geen vuur maak nie.

26. En hulle het die bul wat hy hulle gegee het, geneem en dit gereedgemaak en die naam van Baäl van die môre tot die middag aangeroep en gesê: o Baäl, gee ons antwoord! Maar daar was geen stem en niemand wat antwoord nie. En hulle het rondgespring by die altaar wat hulle gemaak het.

27. En toe dit middag was, het Elía met hulle gespot en gesê: Roep hard; hy is mos ’n god! Hy is seker in gepeins, of hy het hom seker afgesonder, of hy is seker op reis; miskien slaap hy en moet wakker word.

28. En hulle het hard geroep en hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 18