Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 17:6-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. En die kraaie het vir hom smôrens brood en vleis gebring, en saans brood en vleis, en hy het uit die spruit gedrink.

7. Maar ná verloop van tyd het die spruit opgedroog, want daar was geen reën in die land nie.

8. Toe kom die woord van die Here tot hom en sê:

9. Maak jou klaar, gaan na Sarfat wat by Sidon is, en bly daar; kyk, daar het Ek aan ’n weduwee bevel gegee om jou te onderhou.

10. Daarop het hy hom gereedgemaak en na Sarfat gegaan; en toe hy by die ingang van die stad kom, was ’n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak. En hy roep haar en sê: Gaan haal tog vir my ’n bietjie water in die kan, dat ek kan drink.

11. Terwyl sy loop om dit te gaan haal, roep hy na haar en sê: Bring tog vir my ’n stukkie brood saam.

12. Maar sy antwoord: So waar as die Here u God leef, ek het nie ’n broodkoek nie, net maar ’n handvol meel in die pot en ’n bietjie olie in die kruik; en hier maak ek nou ’n paar houtjies bymekaar; dan gaan ek en maak dit vir my en my seun klaar, dat ons dit kan eet en sterwe.

13. En Elía sê vir haar: Wees nie bevrees nie, gaan heen, doen volgens jou woord; maar maak eers daarvan vir my ’n broodkoekie en bring dit uit vir my; daarna kan jy vir jóú en jou seun iets klaarmaak.

14. Want so sê die Here, die God van Israel: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word nie, tot op die dag dat die Here reën op die aarde sal gee.

15. En sy het gegaan en gehandel volgens die woord van Elía; en sy het geëet — sy en hy en haar gesin dae lank:

16. die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie, volgens die woord van die Here wat Hy deur die diens van Elía gespreek het.

17. Ná hierdie dinge het die seun van die vrou, die eienares van die huis, siek geword; en sy siekte was baie ernstig, totdat daar geen asem meer in hom oorgebly het nie.

18. Toe sê sy vir Elía: Wat het ek met u te doen, man van God! U het na my gekom om my ongeregtigheid in gedagtenis te bring en my seun dood te maak!

19. Maar hy antwoord haar: Gee jou seun vir my. En hy het hom van haar skoot af geneem en hom opgedra na die bo-kamer waar hy self gewoon het, en hom op sy bed neergelê;

20. en hy het die Here aangeroep en gesê: Here my God, het U selfs oor die weduwee by wie ek as vreemdeling vertoef, ’n onheil gebring deur haar seun te laat sterwe?

21. Daarop het hy hom drie maal uitgestrek oor die kind en die Here aangeroep en gesê: Here my God, laat die siel van hierdie kind tog in hom terugkeer.

22. En die Here het Elía verhoor; en die siel van die kind het in hom teruggekeer, sodat hy weer lewendig geword het.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 17