Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 10:13-29 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

13. En koning Salomo het aan die koningin van Skeba al haar begeerte gegee wat sy gevra het, bo wat hy haar na die vermoë van koning Salomo gegee het. Daarop het sy omgedraai en na haar land getrek, sy en haar dienaars.

14. EN die gewig van Salomo se inkomste aan goud in een jaar was seshonderd-ses-en-sestig talente goud,

15. behalwe wat ingekom het van die koopmans wat rondtrek, en van die wins van die handelaars en van al die konings van die gemengde bevolking en van die goewerneurs van die land.

16. En koning Salomo het tweehonderd groot skilde van geslae goud gemaak; seshonderd sikkels goud het hy op elke groot skild gebruik;

17. en driehonderd klein skilde van geslae goud; drie mines goud het hy op elke klein skild gebruik, en die koning het dit in die huis van die Líbanon-bos gesit.

18. Verder het die koning ’n groot troon van ivoor gemaak en dit met suiwer goud oorgetrek.

19. Die troon het ses trappe gehad, en die kopstuk van die troon was van agter rond, en aan weerskante was trapleunings by die sitplek, terwyl twee leeus langs die leunings staan.

20. Daarby het twaalf leeus daar op die ses trappe aan weerskante gestaan; so iets is nooit vir enige koninkryk gemaak nie.

21. En die hele drinkservies van koning Salomo was van goud, en al die voorwerpe van die huis van die Líbanon-bos van fyn goud; silwer was daar nie by nie: dit is in die dae van Salomo as niks gereken nie.

22. Want die koning het Tarsis-skepe op die see gehad by die skepe van Hiram; een maal in drie jaar het die Tarsis-skepe ingekom, gelaai met goud en silwer, ivoor en ape en poue.

23. So het koning Salomo dan groter geword as al die konings van die aarde, in rykdom en wysheid.

24. En die hele wêreld het die aangesig van Salomo gesoek om sy wysheid te hoor wat God in sy hart gegee het,

25. terwyl elkeen van hulle sy geskenk saambring: silwervoorwerpe en goue voorwerpe en klere en wapens en speserye, perde en muile, jaar vir jaar.

26. Verder het Salomo strydwaens en perderuiters versamel, sodat hy veertienhonderd waens en twaalfduisend perderuiters gehad het; en hy het dit in die stede vir die waens en by die koning in Jerusalem opgestel.

27. Verder het die koning die silwer in Jerusalem gemaak soos klippe en die seders gemaak soos wildevyebome wat in die Laeveld is, in menigte.

28. En die uitvoer van perde vir Salomo was uit Egipte en uit Kwé; handelaars van die koning het dit uit Kwé gaan haal teen koopprys.

29. En ’n wa het uit Egipte opgekom, en dit is verkoop vir seshonderd sikkels silwer, en ’n perd vir honderd-en-vyftig; en so is dit vir al die konings van die Hetiete en vir die konings van Aram deur hulle uitgevoer.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 10