Ou Testament

Nuwe Testament

Romeine 7:1-9 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. OF weet julle nie, broeders — want ek spreek met mense wat die wet ken — dat die wet oor die mens heers so lank as hy lewe nie?

2. Want die getroude vrou is deur die wet aan die lewende man gebonde; maar as die man sterwe, is sy ontslae van die wet van die man.

3. Daarom dan, as sy ’n ander man s’n word terwyl haar man lewe, sal sy ’n egbreekster genoem word; maar as die man sterwe, is sy vry van die wet, sodat sy nie ’n egbreekster is as sy ’n ander man s’n word nie.

4. So, my broeders, is julle dan ook ten opsigte van die wet dood deur die liggaam van Christus, om aan ’n ander te behoort, naamlik aan Hom wat uit die dode opgewek is, sodat ons tot eer van God vrugte kan dra.

5. Want toe ons in die vlees was, het die sondige hartstogte wat deur die wet kom, in ons lede gewerk om vir die dood vrugte te dra.

6. Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.

7. Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie.

8. Maar die sonde het aanleiding gevind deur die gebod en in my allerhande begeerlikheid gewerk; want sonder die wet is die sonde dood.

9. En sonder die wet het ek vroeër gelewe, maar toe die gebod kom, het die sonde weer opgelewe en ek het gesterwe.

Lees volledige hoofstuk Romeine 7