Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 6:1-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van ’n donderslag: Kom kyk!

2. En ek het gesien, en kyk, daar was ’n wit perd. En hy wat daarop sit, het ’n boog; en aan hom is ’n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ’n oorwinnaar en om te oorwin.

3. En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk!

4. En ’n ander perd, ’n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee.

5. En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ’n swart perd; en hy wat daarop sit, het ’n skaal in sy hand.

6. En ek het ’n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ’n Rantsoen koring vir ’n penning en drie rantsoene gars vir ’n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie.

7. En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk!

8. En ek het gesien, en kyk, daar was ’n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.

9. En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het.

10. En hulle het met ’n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?

11. En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ’n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 6