Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 3:8-18 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ’n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie.

9. Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg — Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het.

10. Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.

11. Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.

12. Wie oorwin, Ek sal hom ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.

13. Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

14. EN skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:

15. Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!

16. Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.

17. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.

18. Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien.

Lees volledige hoofstuk Openbaring 3