Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 9:17-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

17. ’n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar ’n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en altwee bly behoue.

18. TERWYL Hy vir hulle dit sê, kom daar ’n sekere owerste en val voor Hom neer en sê: My dogter het nou net gesterwe, maar kom en lê u hand op haar, en sy sal lewe.

19. En Jesus het opgestaan en hom gevolg, en ook sy dissipels.

20. En daar het ’n vrou wat twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het, van agter gekom en die soom van sy kleed aangeraak.

21. Want sy het by haarself gesê: As ek maar net sy kleed kan aanraak, sal ek gesond word.

22. En Jesus het omgedraai en haar gesien en gesê: Hou goeie moed, dogter, jou geloof het jou gered. En die vrou het gesond geword van daardie uur af.

23. En toe Jesus in die huis van die owerste kom en die fluitspelers sien, en die skare wat te kere gaan,

24. sê Hy vir hulle: Gaan weg, want die dogtertjie is nie dood nie, maar sy slaap. En hulle het Hom uitgelag.

25. En nadat die skare uitgedryf was, het Hy ingegaan en haar hand gegryp; en die dogtertjie het opgestaan.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 9