Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 27:21-34 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

21. Toe antwoord die goewerneur en sê vir hulle: Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat? En hulle antwoord: Barábbas!

22. Pilatus sê vir hulle: Wat moet ek dan doen met Jesus wat genoem word Christus? Hulle sê almal vir hom: Laat Hom gekruisig word!

23. En die goewerneur sê: Watter kwaad het Hy dan gedoen? Maar hulle skreeu nog harder en sê: Laat Hom gekruisig word!

24. En toe Pilatus sien dat niks help nie, maar dat daar eerder ’n oproer kom, het hy water geneem en sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien!

25. En die hele volk antwoord en sê: Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!

26. Toe laat hy vir hulle Barábbas los, maar Jesus het hy laat gésel en oorgelewer om gekruisig te word.

27. Daarop neem die soldate van die goewerneur Jesus met hulle saam in die goewerneur se paleis en bring die hele leërafdeling teen Hom bymekaar.

28. Toe trek hulle sy klere uit en werp ’n rooi mantel om Hom;

29. en hulle vleg ’n kroon van dorings en sit dit op sy hoof, en ’n riet in sy regterhand; en hulle val op hul knieë voor Hom en bespot Hom en sê: Wees gegroet, Koning van die Jode!

30. En hulle spuug op Hom en neem die riet en slaan Hom op sy hoof.

31. En nadat hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die mantel uit en trek Hom sy klere aan en lei Hom weg om gekruisig te word.

32. EN toe hulle uitgaan, kry hulle ’n man van Ciréne, met die naam van Simon; hom het hulle gedwing om sy kruis te dra.

33. En hulle het gekom op ’n plek wat Gólgota genoem word — dit beteken: Plek van die Hoofskedel —

34. en vir Hom asyn, met gal gemeng, gegee om te drink; en toe Hy dit proe, wou Hy nie drink nie.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 27