Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 20:16-30 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

16. So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.

17. EN toe Jesus opgaan na Jerusalem, het Hy die twaalf dissipels op die pad alleen geneem en vir hulle gesê:

18. Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood veroordeel

19. en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te gésel en te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan.

20. Toe kom die moeder van die seuns van Sebedéüs met haar seuns na Hom en buig voor Hom neer om iets van Hom te vra.

21. En Hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand.

22. Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan.

23. En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter- en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is.

24. En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig oor die twee broers.

25. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen;

26. maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees.

27. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees;

28. net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.

29. EN toe hulle uit Jérigo uitgaan, het ’n groot menigte Hom gevolg.

30. En daar het twee blindes langs die pad gesit; en toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, roep hulle uit en sê: Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid!

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 20