Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 15:5-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Maar julle sê: Elkeen wat aan vader of moeder sê: enige voordeel wat u van my sou kan geniet, is ’n offergawe — dié hoef sy vader of sy moeder glad nie te eer nie.

6. So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.

7. Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het:

8. Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.

9. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.

10. En Hy het die skare na Hom geroep en vir hulle gesê: Luister en verstaan!

11. Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.

12. Daarop kom sy dissipels nader en sê vir Hom: Weet U dat die Fariseërs, toe hulle die woord hoor, aanstoot geneem het?

13. Maar Hy antwoord en sê: Elke plant wat my hemelse Vader nie geplant het nie, sal ontwortel word.

14. Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.

15. En Petrus antwoord en sê vir Hom: Verklaar vir ons hierdie gelykenis.

16. Maar Jesus sê: Is julle dan ook nog sonder verstand?

17. Begryp julle nog nie dat alles wat in die mond ingaan, in die maag kom en in die heimlikheid uitgewerp word nie?

18. Maar die dinge wat uit die mond uitgaan, kom uit die hart, en dit is dié wat die mens onrein maak.

19. Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.

20. Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak; maar om met ongewaste hande te eet, maak die mens nie onrein nie.

21. EN Jesus het daarvandaan weggegaan en na die streke van Tirus en Sidon vertrek.

22. En ’n Kananése vrou het van daardie gebied gekom en na Hom geroep en gesê: Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete.

23. Maar Hy het haar nie ’n woord geantwoord nie. Toe kom sy dissipels nader en vra Hom en sê: Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan.

24. Maar Hy antwoord en sê: Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 15