Ou Testament

Nuwe Testament

Matthéüs 13:18-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

18. Luister julle dan na die gelykenis van die saaier.

19. As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is — dit is hy by wie langs die pad gesaai is.

20. En by wie op rotsagtige plekke gesaai is — dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem;

21. maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ’n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik.

22. En by wie in die dorings gesaai is — dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.

23. En by wie op die goeie grond gesaai is — dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig.

24. ’n ANDER gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ’n man wat goeie saad in sy land gesaai het;

25. maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan.

26. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook.

27. En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan?

28. En hy antwoord hulle: ’n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak?

Lees volledige hoofstuk Matthéüs 13