Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 6:43-56 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

43. en hulle het van die brokstukke twaalf mandjies vol opgetel, en van die visse.

44. En die wat van die brood geëet het, was omtrent vyfduisend manne.

45. EN dadelik het Hy sy dissipels gedwing om in die skuit te gaan en vooruit te vaar na die oorkant, na Betsáida, onderwyl Hy die skare sou wegstuur.

46. En nadat Hy van hulle afskeid geneem het, het Hy na die berg gegaan om te bid.

47. En toe dit aand geword het, was die skuit in die middel van die see en Hy alleen op die land.

48. En Hy het gesien dat hulle swaar kry met roei, want die wind was teen hulle. En omtrent die vierde nagwaak het Hy na hulle gekom, al wandelende op die see. En Hy wou by hulle verbygaan.

49. En toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gemeen dat dit ’n spook was en hard uitgeskreeu;

50. want hulle het Hom almal gesien en was ontsteld. Toe spreek Hy dadelik met hulle en sê vir hulle: Hou goeie moed, dit is Ek; moenie vrees nie.

51. En Hy het by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê; en hulle was by hulleself uitermate verbaas en verwonderd.

52. Want hulle het by die wonder van die brode nie verstandig geword nie, omdat hulle hart verhard was.

53. En nadat hulle oorgevaar het, het hulle by die land Gennésaret aangekom en daar aan wal gaan lê.

54. En toe hulle uit die skuit gaan, het die mense Hom dadelik herken,

55. en hulle het in daardie hele omtrek rondgeloop en die wat ongesteld was, op bedde begin ronddra na die plek waar hulle hoor dat Hy is.

56. En waar Hy ook al ingegaan het in dorpe of stede of buitewyke, het hulle die wat ongesteld was, op die markpleine neergesit en Hom gesmeek om, al was dit maar die soom van sy kleed, aan te raak; en almal wat Hom aangeraak het, het gesond geword.

Lees volledige hoofstuk Markus 6