Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 3:5-21 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. En nadat Hy hulle rondom met toorn aangekyk het en tegelykertyd bedroef was oor die hardheid van hulle hart, sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en sy hand is herstel, gesond soos die ander een.

6. Toe gaan die Fariseërs uit en hou dadelik raad met die Herodiane teen Hom, sodat hulle Hom sou kan ombring.

7. En Jesus het met sy dissipels teruggegaan na die see toe, en ’n groot menigte het Hom gevolg uit Galiléa en Judéa

8. en Jerusalem en Iduméa en van oorkant die Jordaan af. En die wat om Tirus en Sidon gewoon het, ’n groot menigte, het na Hom gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen.

9. En Hy het aan sy dissipels gesê dat ’n skuitjie altyd vir Hom moes klaar lê vanweë die skare, sodat hulle Hom nie miskien sou verdring nie.

10. Want Hy het baie gesond gemaak, sodat almal wat vol kwale was, op Hom toegeloop het om Hom aan te raak.

11. En elke keer as die onreine geeste Hom sien, het hulle voor Hom neergeval en geskreeu en gesê: U is die Seun van God!

12. En Hy het hulle herhaaldelik streng gebied om Hom nie bekend te maak nie.

13. EN Hy het op die berg geklim en na Hom geroep die wat Hy wou hê, en hulle het na Hom gekom.

14. En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek

15. en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf.

16. En aan Simon het Hy die bynaam Petrus gegee;

17. en verder Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, die broer van Jakobus — aan hulle het Hy die bynaam Boanérges gegee, dit is, seuns van die donder —

18. en Andréas en Filippus, en Bartholoméüs en Matthéüs, en Thomas en Jakobus, die seun van Alféüs, en Thaddéüs en Simon Kananítes,

19. en Judas Iskáriot, hy wat Hom verraai het.

20. EN hulle het in ’n huis gegaan, en ’n skare het weer saamgekom, sodat hulle selfs nie brood kon eet nie.

21. Toe sy mense dit hoor, gaan hulle uit om Hom in die hande te kry; want hulle het gesê: Hy is buite sy sinne.

Lees volledige hoofstuk Markus 3