Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 2:9-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Wat is makliker, om vir die verlamde te sê: Die sondes is jou vergewe! of om te sê: Staan op en neem jou bed op en loop?

10. Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op die aarde sondes te vergewe — sê Hy vir die verlamde man:

11. Ek sê vir jou: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.

12. En dadelik staan hy op en neem sy bed op en gaan voor die oë van almal uit, sodat almal verbaas was en God verheerlik en sê: So iets het ons nog nooit gesien nie!

13. EN Hy het weer uitgegaan langs die see, en die hele skare het na Hom gekom, en Hy het hulle geleer.

14. En toe Hy verbygaan, sien Hy Levi, die seun van Alféüs, by die tolhuis sit en sê vir hom: Volg My. En hy het opgestaan en Hom gevolg.

15. En terwyl Hy in sy huis aan tafel was, kom daar baie tollenaars en sondaars saam met Jesus en sy dissipels aan tafel; want daar was baie, en hulle het Hom gevolg.

16. En toe die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom saam met die tollenaars en sondaars sien eet, sê hulle vir sy dissipels: Wat is dit dat Hy saam met die tollenaars en sondaars eet en drink?

17. En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.

18. EN die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs was besig om te vas. Toe kom hulle en sê vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie?

19. En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? So lank as hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie.

20. Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas, in daardie dae.

21. En niemand werk ’n nuwe stuk lap op ’n ou kleed nie; anders skeur sy nuwe aangelapte stuk van die oue af, en daar kom ’n erger skeur.

22. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke laat bars, en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word.

23. EN terwyl Hy op die sabbat deur die gesaaides loop, het sy dissipels al gaande are begin pluk.

24. Toe sê die Fariseërs vir Hom: Kyk, waarom doen hulle op die sabbat wat nie geoorloof is nie?

Lees volledige hoofstuk Markus 2