Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 10:20-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

20. Maar hy antwoord en sê vir Hom: Meester, al hierdie dinge het ek onderhou van my jeug af.

21. En Jesus het hom aangekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: Een ding kom jy kort — gaan verkoop alles wat jy het, en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My.

22. Maar hy het treurig geword oor dié woord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad.

23. Toe kyk Jesus rond en sê vir sy dissipels: Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan!

24. En die dissipels was verbaas oor sy woorde; maar Jesus antwoord weer en sê vir hulle: Kinders, hoe swaar is dit vir die wat op hulle goed vertrou, om in die koninkryk van God in te gaan!

25. Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.

26. En hulle was uitermate verslae en het vir mekaar gesê: Wie kan dan gered word?

27. Maar Jesus het hulle aangekyk en geantwoord: By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie; want by God is alle dinge moontlik.

28. Toe begin Petrus vir Hom te sê: Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg.

29. En Jesus antwoord en sê: Voorwaar Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van die evangelie verlaat het nie,

30. of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel: huise en broers en susters en moeders en kinders en grond, saam met vervolginge, en in die eeu wat kom, die ewige lewe.

31. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en die wat laaste is, eerste.

32. EN hulle was op die pad terwyl hulle opgaan na Jerusalem, en Jesus het voor hulle uit gegaan, en hulle was verbaas; en terwyl hulle volg, het hulle gevrees. En Hy het weer die twaalf by Hom geneem en aan hulle begin vertel die dinge wat met Hom sou gebeur.

33. Kyk, sê Hy, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en die skrifgeleerdes, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene;

34. en hulle sal Hom bespot en Hom gésel en op Hom spuug en Hom doodmaak; en op die derde dag sal Hy opstaan.

35. En Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, het na Hom gekom en gesê: Meester, ons wil hê dat U vir ons moet doen wat ons U ook al mag vra.

36. En Hy sê vir hulle: Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?

37. En hulle antwoord Hom: Gee aan ons dat ons mag sit in u heerlikheid, een aan u regter- en een aan u linkerhand.

Lees volledige hoofstuk Markus 10