Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:2-14 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. En Hy het hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak

3. en vir hulle gesê: Neem niks vir die pad nie, geen stokke of reissak of brood of geld nie, en geeneen van julle moet twee kledingstukke hê nie.

4. En in watter huis julle ook mag ingaan, bly dáár en gaan dáárvandaan verder.

5. En almal wat julle nie ontvang nie — as julle van daardie stad weggaan, skud selfs die stof van julle voete af, tot ’n getuienis teen hulle.

6. En hulle het uitgegaan en dorp vir dorp deurgegaan en oral die evangelie verkondig en siekes gesond gemaak.

7. HERODES, die viervors, hoor toe van al die dinge wat deur Hom gedoen is; en hy was met die saak verleë, omdat deur sommige gesê is: Johannes is uit die dode opgewek;

8. en deur ander: Elía het verskyn; en deur ander: Een van die ou profete het opgestaan.

9. En Herodes het gesê: Johannes het ek onthoof; maar wie is hierdie man van wie ek sulke dinge hoor? En hy het probeer om Hom te sien.

10. EN toe die apostels terugkom en Hom alles vertel wat hulle gedoen het, het Hy hulle saamgeneem en in die eensaamheid gegaan na ’n verlate plek van ’n stad met die naam van Betsáida.

11. Maar die skare het dit te wete gekom en Hom gevolg; en Hy het hulle ontvang en met hulle gespreek oor die koninkryk van God, en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak.

12. Toe die dag begin daal, kom die twaalf na Hom en sê vir Hom: Stuur die skare weg, sodat hulle na die dorpe en buitewyke in die omtrek kan gaan en herberg en voedsel kry; want ons is hier in ’n verlate plek.

13. Maar Hy sê vir hulle: Gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle antwoord: Ons het nie meer as vyf brode en twee visse nie, tensy ons voedsel gaan koop vir al hierdie mense.

14. Want daar was omtrent vyfduisend manne. Maar Hy sê vir sy dissipels: Laat hulle in groepe van vyftig sit.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9