Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:10-28 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

10. EN toe die apostels terugkom en Hom alles vertel wat hulle gedoen het, het Hy hulle saamgeneem en in die eensaamheid gegaan na ’n verlate plek van ’n stad met die naam van Betsáida.

11. Maar die skare het dit te wete gekom en Hom gevolg; en Hy het hulle ontvang en met hulle gespreek oor die koninkryk van God, en die wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak.

12. Toe die dag begin daal, kom die twaalf na Hom en sê vir Hom: Stuur die skare weg, sodat hulle na die dorpe en buitewyke in die omtrek kan gaan en herberg en voedsel kry; want ons is hier in ’n verlate plek.

13. Maar Hy sê vir hulle: Gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle antwoord: Ons het nie meer as vyf brode en twee visse nie, tensy ons voedsel gaan koop vir al hierdie mense.

14. Want daar was omtrent vyfduisend manne. Maar Hy sê vir sy dissipels: Laat hulle in groepe van vyftig sit.

15. En hulle het dit gedoen en almal laat sit.

16. Toe neem Hy die vyf brode en die twee visse, en nadat Hy opgekyk het na die hemel, seën Hy dit en breek dit en gee dit aan die dissipels om dit aan die skare voor te sit.

17. En hulle het geëet en is almal versadig, en van wat vir hulle van die brokstukke oorgebly het, is daar twaalf mandjies vol opgetel.

18. EN toe Hy besig was om alleen te bid, was die dissipels by Hom, en Hy vra hulle en sê: Wie sê die skare is Ek?

19. En hulle antwoord en sê: Johannes die Doper, en ander: Elía, en ander dat een van die ou profete opgestaan het.

20. En Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Petrus antwoord en sê: Die Christus van God!

21. Toe gee Hy hulle ’n streng bevel en gebied hulle om dit aan niemand te vertel nie.

22. En Hy sê: Die Seun van die mens moet baie ly en verwerp word deur die ouderlinge en owerpriesters en skrifgeleerdes en gedood word en op die derde dag opstaan.

23. EN Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.

24. Want elkeen wat sy lewe wil red, sal dit verloor; maar elkeen wat sy lewe om My ontwil verloor, hy sal dit red.

25. Wat baat dit ’n mens tog as hy die hele wêreld win, maar homself verloor of skade aandoen?

26. Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.

27. Ek sê vir julle met waarheid: Daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.

28. EN omtrent agt dae ná hierdie woorde het Hy Petrus en Johannes en Jakobus saamgeneem en op die berg geklim om te bid.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9