Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 5:27-39 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

27. EN ná hierdie dinge het Hy uitgegaan en ’n tollenaar met die naam van Levi by die tolhuis sien sit en vir hom gesê: Volg My.

28. En hy het alles verlaat en opgestaan en Hom gevolg.

29. En Levi het ’n groot feesmaal vir Hom in sy huis gegee; en daar was ’n groot menigte van tollenaars en ander wat saam met hulle aan tafel was.

30. En hulle skrifgeleerdes en die Fariseërs het by sy dissipels gemurmureer en gesê: Waarom eet en drink julle saam met die tollenaars en sondaars?

31. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is.

32. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.

33. TOE sê hulle vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes dikwels en doen gebede; so ook dié van die Fariseërs; maar u dissipels eet en drink?

34. En Hy sê vir hulle: Kan julle die bruilofsgaste dan laat vas solank as die bruidegom by hulle is?

35. Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word; dan sal hulle vas, in daardie dae.

36. En Hy het ook aan hulle ’n gelykenis vertel: Niemand sit ’n lap van ’n nuwe kleed op ’n ou kleed nie; anders skeur dit die nuwe ook, en die lap wat van die nuwe af kom, pas nie by die oue nie.

37. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke skeur, en dit sal uitloop, en die sakke sal vergaan.

38. Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word, en altwee word saam behou.

39. En niemand wat ou wyn gedrink het, wil dadelik nuwe hê nie; want hy sê: Die oue is beter.

Lees volledige hoofstuk Lukas 5