Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 3:1-13 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. EN in die vyftiende jaar van die regering van keiser Tibérius, toe Pontius Pilatus goewerneur was van Judéa en Herodes viervors van Galiléa, en Filippus, sy broer, viervors van Ituréa en die land Trachonítus, en Lisánias viervors van Abiléne,

2. tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kájafas, het die woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagaría, in die woestyn.

3. En hy het gekom in die hele omtrek van die Jordaan en die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig;

4. soos geskrywe is in die boek van die woorde van Jesaja, die profeet, waar hy sê: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit.

5. Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; en die krom draaie sal ’n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk weë.

6. En alle vlees sal die heil van God sien.

7. Toe sê hy vir die skare wat uitgegaan het om deur hom gedoop te word: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?

8. Dra dan vrugte wat by die bekering pas, en moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek.

9. Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

10. En die skare het hom gevra en gesê: Wat moet ons dan doen?

11. En hy antwoord en sê vir hulle: Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen.

12. En tollenaars het ook gekom om gedoop te word, en vir hom gesê: Meester, wat moet ons doen?

13. En hy antwoord hulle: Moenie meer invorder as wat julle voorgeskrywe is nie.

Lees volledige hoofstuk Lukas 3