Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:52-71 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

52. Toe sê Jesus vir die owerpriesters en hoofde van die tempel en ouderlinge wat teen Hom gekom het: Het julle uitgetrek soos teen ’n rower met swaarde en stokke?

53. Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie die hande teen My uitgesteek nie. Maar dit is julle uur en die mag van die duisternis.

54. EN hulle het Hom gevange geneem en weggelei en Hom gebring in die huis van die hoëpriester. En Petrus het van ver af gevolg.

55. En toe hulle ’n vuur in die middel van die binneplaas van die paleis gemaak en bymekaar gaan sit het, het Petrus onder hulle gesit.

56. En ’n diensmeisie het hom daar by die vuur sien sit; en nadat sy hom vas aangekyk het, sê sy: Hierdie man was ook saam met Hom.

57. Maar hy het Hom verloën en gesê: Vrou, ek ken Hom nie.

58. En kort daarna sien iemand anders hom en sê: Jy is ook een van hulle. Maar Petrus sê: Man, ek is nie.

59. En ná verloop van omtrent een uur het ’n ander een dit verseker en gesê: Sowaar, hierdie man was ook saam met Hom, want hy is ook ’n Galiléër.

60. Maar Petrus antwoord: Man, ek weet nie wat jy sê nie. En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het die haan gekraai.

61. En die Here het Hom omgedraai en Petrus aangekyk, en Petrus het die woord van die Here onthou wat Hy vir hom gesê het: Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.

62. En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik geween.

63. EN die manne wat Jesus gevange gehou het, het Hom bespot en geslaan.

64. En hulle het Hom geblinddoek en Hom in die aangesig geslaan en Hom gevra en gesê: Profeteer wie dit is wat U geslaan het.

65. En baie ander dinge het hulle lasterlik teen Hom gespreek.

66. En toe dit dag word, het die oudstes van die volk — die owerpriesters en skrifgeleerdes — vergader en Hom voor hulle Raad gebring

67. en gesê: As U die Christus is, sê vir ons. En Hy antwoord hulle: As Ek vir u sê, sal u tog nie glo nie.

68. En as Ek vra, sal u My tog nie antwoord of loslaat nie.

69. Van nou af sal die Seun van die mens sit aan die regterhand van die krag van God.

70. En hulle sê almal: Is U dan die Seun van God? En Hy antwoord hulle: U sê dat Ek dit is.

71. Daarop sê hulle: Wat het ons nog getuienis nodig! Want ons het dit self uit sy mond gehoor.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22