Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 2:11-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.

12. En dit is vir julle die teken: julle sal ’n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.

13. En skielik was daar saam met die engel ’n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê:

14. Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae!

15. En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het.

16. En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê.

17. En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is.

18. En almal wat dit gehoor het, was verwonderd oor wat deur die herders aan hulle vertel is;

19. maar Maria het al hierdie woorde bewaar en in haar hart oordink.

20. En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gehoor en gesien het, net soos aan hulle gesê is.

21. EN toe agt dae vervul was, dat hulle die Kindjie sou besny, het hulle Hom Jesus genoem, die naam wat deur die engel gegee is voor sy ontvangenis in die moederskoot.

22. En nadat die dae van haar reiniging volgens die wet van Moses vervul was, het hulle Hom na Jerusalem gebring om Hom aan die Here voor te stel,

23. soos geskrywe is in die wet van die Here: Elke manlike kind wat die moederskoot open, sal heilig vir die Here genoem word;

24. en om die offer te gee volgens wat gesê is in die wet van die Here: ’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe.

Lees volledige hoofstuk Lukas 2