Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 1:12-25 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. En toe Sagaría hom sien, was hy ontsteld, en vrees het hom oorval.

13. Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou ’n seun baar, en jy moet hom Johannes noem.

14. En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees;

15. want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af.

16. En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God.

17. En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ’n toegeruste volk te berei.

18. Toe sê Sagaría vir die engel: Waaraan sal ek dit weet? Want ek is ’n ou man, en my vrou is op ver gevorderde leeftyd.

19. En die engel antwoord en sê vir hom: Ek is Gabriël wat voor God staan, en ek is gestuur om met jou te spreek en jou hierdie goeie tyding te bring.

20. En kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie.

21. En die volk het op Sagaría bly wag en was verwonderd dat hy so lank in die tempel vertoef.

22. Maar toe hy uitkom, kon hy met hulle nie praat nie; hulle bemerk toe dat hy ’n gesig in die tempel gesien het. En hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.

23. En toe die dae van sy diens vervul was, het hy huis toe gegaan.

24. En ná hierdie dae het Elisabet, sy vrou, ontvang en haar vyf maande lank verberg en gesê:

25. So het die Here met my gedoen in die dae toe Hy my aangesien het om my smaad onder die mense weg te neem.

Lees volledige hoofstuk Lukas 1