Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 1:1-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. AANGESIEN baie onderneem het om ’n verhaal op te stel oor die dinge wat onder ons al vervul is,

2. soos hulle wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, dit aan ons oorgelewer het,

3. het ek ook dit goedgedink, hooggeagte Theófilus, nadat ek van voor af alles noukeurig ondersoek het, om dit in volgorde aan u te skrywe,

4. sodat u met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent u onderrig is.

5. DAAR was in die dae van Herodes, koning van Judéa, ’n sekere priester met die naam van Sagaría, uit die afdeling van Abía; en sy vrou was uit die dogters van Aäron, en haar naam was Elisabet.

6. En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel.

7. En hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei op ver gevorderde leeftyd.

8. En terwyl hy besig was om die priesteramp voor God te bedien in die beurt van sy afdeling,

9. het die lot volgens priesterlike gewoonte op hom geval om in te gaan in die tempel van die Here en reukwerk te brand.

10. En die hele menigte van die volk was buite, besig om te bid op die uur van die reukoffer.

11. Toe verskyn daar aan hom ’n engel van die Here, wat aan die regterkant van die reukofferaltaar staan.

12. En toe Sagaría hom sien, was hy ontsteld, en vrees het hom oorval.

13. Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou ’n seun baar, en jy moet hom Johannes noem.

14. En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees;

15. want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af.

16. En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God.

17. En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here ’n toegeruste volk te berei.

Lees volledige hoofstuk Lukas 1