Ou Testament

Nuwe Testament

Kolossense 2:9-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

9. Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik;

10. en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag;

11. in wie julle ook besny is met ’n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus,

12. omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.

13. En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het,

14. en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,

15. nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.

16. Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie,

17. wat ’n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.

18. Laat niemand julle van jul prys beroof nie, al sou hy behae hê in nederigheid en verering van die engele en indring in wat hy nie gesien het nie, en sonder oorsaak opgeblase wees deur sy vleeslike gesindheid,

19. en nie vashou aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam deur die gewrigte en verbindinge ondersteuning ontvang en saamgebind word en so met goddelike groei groot word.

20. As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge

21. soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? —

22. almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan — volgens die gebooie en leringe van mense,

23. wat, alhoewel dit ’n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees.

Lees volledige hoofstuk Kolossense 2