Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 6:36-50 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

36. Maar Ek het vir julle gesê dat julle My gesien het, en tog glo julle nie.

37. Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.

38. Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.

39. En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.

40. En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

41. Toe murmureer die Jode oor Hom, omdat Hy gesê het: Ek is die brood wat uit die hemel neergedaal het.

42. En hulle sê: Is Hy nie Jesus, die seun van Josef, wie se vader en moeder ons ken nie? Hoe sê Hy dan: Ek het uit die hemel neergedaal?

43. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Moenie onder mekaar murmureer nie.

44. Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.

45. Dit is geskrywe in die profete: En hulle sal almal deur God geleer wees. Elkeen dan wat dit van die Vader gehoor en geleer het, kom na My toe.

46. Nie dat iemand die Vader gesien het nie, behalwe Hy wat van God kom: Hy het die Vader gesien.

47. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe.

48. Ek is die brood van die lewe.

49. Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe.

50. Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 6