Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 21:8-20 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Maar die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep; want hulle was nie ver van die land nie, maar omtrent tweehonderd el.

9. En toe hulle geland het, sien hulle ’n koolvuur op die grond en vis daarop lê, en brood.

10. Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het.

11. Simon Petrus het in die skuit geklim en die net op die land getrek, vol groot visse, honderd-drie-en-vyftig in getal; en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.

12. Jesus sê vir hulle: Kom eet! En niemand van die dissipels het gewaag om Hom te vra: Wie is U nie? omdat hulle wis dat dit die Here was.

13. En Jesus het gekom en die brood geneem en dit aan hulle gegee, en so ook die vis.

14. Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode.

15. Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei.

16. Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op.

17. Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.

18. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ’n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie.

19. En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik; en toe Hy dit gespreek het, sê Hy vir hom: Volg My.

20. En Petrus het hom omgedraai en die dissipel sien volg vir wie Jesus liefgehad het, die een wat by die maaltyd op sy bors geval en gesê het: Here, wie is u verraaier?

Lees volledige hoofstuk Johannes 21