Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 18:8-23 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

8. Jesus antwoord: Ek het vir julle gesê dat dit Ek is. As julle My dan soek, laat hierdie manne weggaan —

9. sodat die woord vervul sou word wat Hy gespreek het: Uit die wat U My gegee het, het Ek niemand verloor nie.

10. En Simon Petrus wat ’n swaard gehad het, het dit uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. En die naam van die dienskneg was Malchus.

11. Toe sê Jesus vir Petrus: Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?

12. EN die afdeling en die owerste oor duisend en die dienaars van die Jode het Jesus gevange geneem en Hom geboei;

13. en hulle het Hom weggelei, eers na Annas; want Hy was die skoonvader van Kájafas wat daardie jaar hoëpriester was.

14. En dit was Kájafas wat aan die Jode die raad gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterwe.

15. En Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg; en daardie dissipel was met die hoëpriester bekend en het saam met Jesus ingegaan in die binneplaas van die hoëpriester se paleis.

16. Maar Petrus het buitekant by die deur bly staan. En die ander dissipel wat bekend was met die hoëpriester, het uitgegaan en met die deurwagster gepraat en Petrus ingebring.

17. Toe sê die diensmeisie, die deurwagster, vir Petrus: Jy is tog nie ook een van die dissipels van hierdie mens nie? Hy sê: Ek is nie.

18. En die diensknegte en die dienaars het by ’n koolvuur gestaan wat hulle gemaak het — want dit was koud — en hulle het hul warm gemaak. En Petrus het by hulle gestaan en hom warm gemaak.

19. Die hoëpriester ondervra Jesus toe oor sy dissipels en oor sy leer.

20. Jesus antwoord hom: Ek het ronduit tot die wêreld gespreek; Ek het altyd in die sinagoge geleer en in die tempel waar die Jode van alle kante vergader; en in die geheim het Ek niks gespreek nie.

21. Wat ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek tot hulle gespreek het; hulle weet tog wat Ek gesê het.

22. En toe Hy dit sê, het een van die dienaars wat daar staan, Jesus in die aangesig geslaan en gesê: Antwoord U die hoëpriester so?

23. Jesus antwoord hom: As Ek verkeerd gespreek het, getuig van die verkeerdheid; maar as Ek reg gespreek het, waarom slaan jy My?

Lees volledige hoofstuk Johannes 18