Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 18:28-40 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

28. TOE neem hulle Jesus van Kájafas na die goewerneur se paleis. En dit was vroeg in die môre; en hulle het self nie in die paleis ingegaan nie, dat hulle hul nie sou verontreinig nie, maar dat hulle die pasga kon eet.

29. En Pilatus het na hulle uitgekom en gesê: Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?

30. Hulle antwoord en sê vir hom: As Hy geen kwaaddoener was nie, sou ons Hom nie aan u oorgelewer het nie.

31. En Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet. En die Jode sê vir hom: Dit is ons nie geoorloof om iemand dood te maak nie —

32. sodat die woord van Jesus vervul sou word wat Hy gesê het om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.

33. Pilatus gaan toe weer in die goewerneur se paleis en roep Jesus en sê vir Hom: Is U die Koning van die Jode?

34. Jesus antwoord hom: Sê u dit uit uself, of het ander u dit van My gesê?

35. Pilatus antwoord: Is ek dan ’n Jood? U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen?

36. Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.

37. Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog ’n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.

38. Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? En toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in Hom nie.

39. Maar julle het ’n gewoonte dat ek vir julle op die pasga iemand moet loslaat; wil julle dan hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat?

40. Toe skreeu hulle almal weer en sê: Nie vir Hom nie, maar Barábbas! En Barábbas was ’n rower.

Lees volledige hoofstuk Johannes 18