Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 18:25-37 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

25. En Simon Petrus het hom staan en warm maak. En hulle sê vir hom: Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie? Toe ontken hy dit en sê: Ek is nie.

26. Een van die hoëpriester se diensknegte wat familie was van die man wie se oor Petrus afgekap het, sê: Het ek jou nie in die tuin by Hom gesien nie?

27. En Petrus het dit weer ontken; en dadelik het die haan gekraai.

28. TOE neem hulle Jesus van Kájafas na die goewerneur se paleis. En dit was vroeg in die môre; en hulle het self nie in die paleis ingegaan nie, dat hulle hul nie sou verontreinig nie, maar dat hulle die pasga kon eet.

29. En Pilatus het na hulle uitgekom en gesê: Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?

30. Hulle antwoord en sê vir hom: As Hy geen kwaaddoener was nie, sou ons Hom nie aan u oorgelewer het nie.

31. En Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet. En die Jode sê vir hom: Dit is ons nie geoorloof om iemand dood te maak nie —

32. sodat die woord van Jesus vervul sou word wat Hy gesê het om aan te dui hoedanige dood Hy sou sterwe.

33. Pilatus gaan toe weer in die goewerneur se paleis en roep Jesus en sê vir Hom: Is U die Koning van die Jode?

34. Jesus antwoord hom: Sê u dit uit uself, of het ander u dit van My gesê?

35. Pilatus antwoord: Is ek dan ’n Jood? U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen?

36. Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.

37. Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog ’n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.

Lees volledige hoofstuk Johannes 18