Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 18:1-17 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. NADAT Jesus dit gesê het, het Hy met sy dissipels oor die spruit Kedron gegaan waar daar ’n tuin was, waarin Hy self gegaan het en sy dissipels.

2. En Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus daar dikwels met sy dissipels saamgekom het.

3. En Judas het die afdeling soldate en die dienaars van die owerpriesters en die Fariseërs geneem en daar gekom met fakkels en lampe en wapens.

4. En omdat Jesus alles geweet het wat oor Hom sou kom, het Hy uit die tuin gegaan en vir hulle gesê: Wie soek julle?

5. Hulle antwoord Hom: Jesus, die Nasaréner. Jesus sê vir hulle: Dit is Ek. En ook Judas, sy verraaier, het by hulle gestaan.

6. Toe Hy dan vir hulle sê: Dit is Ek, het hulle agteruitgegaan en op die grond geval.

7. Hy vra hulle toe weer: Wie soek julle? En hulle sê: Jesus, die Nasaréner.

8. Jesus antwoord: Ek het vir julle gesê dat dit Ek is. As julle My dan soek, laat hierdie manne weggaan —

9. sodat die woord vervul sou word wat Hy gespreek het: Uit die wat U My gegee het, het Ek niemand verloor nie.

10. En Simon Petrus wat ’n swaard gehad het, het dit uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. En die naam van die dienskneg was Malchus.

11. Toe sê Jesus vir Petrus: Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?

12. EN die afdeling en die owerste oor duisend en die dienaars van die Jode het Jesus gevange geneem en Hom geboei;

13. en hulle het Hom weggelei, eers na Annas; want Hy was die skoonvader van Kájafas wat daardie jaar hoëpriester was.

14. En dit was Kájafas wat aan die Jode die raad gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterwe.

15. En Simon Petrus en ’n ander dissipel het Jesus gevolg; en daardie dissipel was met die hoëpriester bekend en het saam met Jesus ingegaan in die binneplaas van die hoëpriester se paleis.

16. Maar Petrus het buitekant by die deur bly staan. En die ander dissipel wat bekend was met die hoëpriester, het uitgegaan en met die deurwagster gepraat en Petrus ingebring.

17. Toe sê die diensmeisie, die deurwagster, vir Petrus: Jy is tog nie ook een van die dissipels van hierdie mens nie? Hy sê: Ek is nie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 18