Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 15:6-16 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

6. As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.

7. As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

8. Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.

9. Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.

10. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.

11. Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.

12. Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.

13. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.

14. Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.

15. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.

16. Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Lees volledige hoofstuk Johannes 15