Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 15:12-27 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

12. Dít is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.

13. Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.

14. Julle is my vriende as julle alles doen wat Ek julle beveel.

15. Ek noem julle nie meer diensknegte nie, omdat die dienskneg nie weet wat sy heer doen nie. Maar Ek het julle vriende genoem, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.

16. Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

17. Dit gebied Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê.

18. As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het.

19. As julle van die wêreld was, sou die wêreld sy eiendom liefhê. Maar omdat julle nie van die wêreld is nie, maar Ek julle uit die wêreld uitverkies het, daarom haat die wêreld julle.

20. Onthou die woord wat Ek vir julle gesê het: ’n Dienskneg is nie groter as sy heer nie. As hulle My vervolg het, sal hulle jul ook vervolg. As hulle my woord bewaar het, sal hulle jul woord ook bewaar.

21. Maar al hierdie dinge sal hulle aan julle doen ter wille van my Naam, omdat hulle Hom nie ken wat My gestuur het nie.

22. As Ek nie gekom en met hulle gespreek het nie, sou hulle geen sonde hê nie; maar nou het hulle geen verskoning vir hul sonde nie.

23. Wie my haat, haat ook my Vader.

24. As Ek nie die werke onder hulle gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle geen sonde hê nie. Maar nou het hulle dit gesien, en tog het hulle My sowel as my Vader gehaat.

25. Maar die woord wat in hulle wet geskrywe is, moet vervul word: Hulle het My sonder oorsaak gehaat.

26. Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.

27. En julle getuig ook, omdat julle van die begin af met My is.

Lees volledige hoofstuk Johannes 15