Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 10:5-24 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

5. Hulle sal ’n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.

6. Hierdie gelykenis het Jesus aan hulle vertel; maar hulle het nie verstaan wat dit was wat Hy tot hulle gespreek het nie.

7. Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape.

8. Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie.

9. Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word, en hy sal ingaan en uitgaan en weiding vind.

10. Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

11. Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

12. Maar die huurling en hy wat nie ’n herder is nie, van wie die skape nie die eiendom is nie, sien die wolf kom en laat die skape staan en vlug, en die wolf vang hulle en jaag die skape uitmekaar.

13. En die huurling vlug, omdat hy ’n huurling is en niks vir die skape omgee nie.

14. Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken.

15. Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.

16. Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.

17. Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem.

18. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit Myself af. Ek het mag om dit af te lê en Ek het mag om dit weer te neem. Hierdie gebod het Ek van my Vader ontvang.

19. Daar het toe weer verdeeldheid onder die Jode gekom oor hierdie woorde.

20. En baie van hulle het gesê: Hy is van die duiwel besete en is kranksinnig; wat luister julle na Hom?

21. Ander het gesê: Hierdie woorde is nie van ’n besetene nie; ’n duiwel kan tog nie die oë van blindes open nie.

22. EN dit was die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter.

23. En Jesus het in die tempel gewandel in die pilaargang van Salomo.

24. En die Jode het Hom omring en vir Hom gesê: Hoe lank hou U ons in onsekerheid? As U die Christus is, sê dit vir ons ronduit.

Lees volledige hoofstuk Johannes 10