Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 4:1-12 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

1. WAARVANDAAN kom oorloë en vegterye onder julle? Kom hulle nie hiervandaan, van julle welluste wat in julle lede stryd voer nie?

2. Julle begeer en julle het nie, julle pleeg moord en is naywerig en julle kan niks verkry nie. Julle veg en maak oorlog, en julle het nie, omdat julle nie bid nie.

3. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring.

4. Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ’n vriend van die wêreld wil wees, word ’n vyand van God.

5. Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer die Gees wat in ons woon?

6. Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.

7. Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.

8. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges!

9. Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid.

10. Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

11. Broeders, moenie van mekaar kwaad spreek nie. Dié wat kwaad spreek van sy broeder en sy broeder oordeel, spreek kwaad van die wet en oordeel die wet; en as jy die wet oordeel, is jy nie ’n dader van die wet nie, maar ’n regter.

12. Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf. Maar jy, wie is jy wat ’n ander oordeel?

Lees volledige hoofstuk Jakobus 4