Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 1:2-11 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

2. AG dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val,

3. omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.

4. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.

5. En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.

6. Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.

7. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie —

8. so ’n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.

9. Maar laat die broeder wat gering is, roem in sy hoogheid,

10. en die ryke in sy geringheid, want soos ’n blom van die gras sal hy verbygaan.

11. Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë verwelk.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 1