Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 1:11-22 Afrikaans 1933-1953 (AFR53)

11. Want die son gaan op met sy hitte en laat die gras verdor, en sy blom val af, en die sierlikheid van sy gedaante vergaan; so sal die ryke ook in sy weë verwelk.

12. Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.

13. Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.

14. Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.

15. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

16. Moenie dwaal nie, my geliefde broeders.

17. Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.

18. Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.

19. SO dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.

20. Want die toorn van ’n man bewerk nie die geregtigheid voor God nie.

21. Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red.

22. En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 1